Tien jaar later kry Barberton weer sy eie gedrukte koerant
Toe die Barberton Times se kantoor in 2016 deur die Laevelder gesluit is, het Anchen Coetzee, destyds die redakteur, gesê: “Daar sal weer 'n koerant uitgegee word.”

Tien jaar. Dit is hoe lank dit geneem het voordat 'n belofte uiteindelik werklikheid begin word. Toe die Barberton Times se kantoor in 2016 deur die Laevelder gesluit is, het Anchen Coetzee, destyds die redakteur, gesê: “Daar sal weer 'n koerant uitgegee word.”
Nou, tien jaar later, is dit tyd. De Kaap Echo se eerste gedrukte uitgawe verskyn op 11 Desember!
Lank voordat iOlogue Media die digitale De Kaap Echo begin het, het Anchen reeds besluit dat die redakteur iemand moes wees wat nie net die gemeenskap ken nie, maar self deel daarvan is. Iemand wat tussen die mense woon, hul uitdagings verstaan en weet wat in Barberton aangaan.
“Vir my was daar net een persoon wat aan dié vereistes voldoen het, en dit was jy, Lynette,” het sy later aan my vertel. Deur die jare het Anchen vir Hannelie van Rensburg, wat destyds saam met ons as grafiese ontwerper en ontvangsdame by die Barberton Times gewerk het, behoorlik mal gepraat oor haar planne vir die publikasie. Haar woorde aan Hannelie was telkens: “Lynette weet dit nog nie, maar sy is klaar die redakteur.”
Sedert De Kaap Echo se ontstaan vervul ek daardie rol. Vir my is dit belangrik dat ons lesers hulself en hul dorp in die koerant herken.
Die pad hierheen was nie altyd maklik nie. Daar was struikelblokke, heelwat beplanning, gesprekke en meer as genoeg draaie in die pad. Die grootste uitdaging was om 'n gedrukte koerant weer finansieel lewensvatbaar te maak in 'n tyd waarin die mediabedryf wêreldwyd onder druk verkeer.
De Kaap Echo se digitale weergawe het op 13 April 2025 die lig gesien. Die positiewe ontvangs en groeiende lys intekenaars wat ons artikels direk per e-pos ontvang, het bevestig dat daar steeds 'n behoefte aan plaaslike nuus bestaan. Die digitale koerant gaan voort, maar ons visie is om voorlopig minstens een keer per maand ook 'n gedrukte uitgawe beskikbaar te stel. Met voldoende ondersteuning wil ons later na 'n tweeweeklikse en uiteindelik 'n weeklikse uitgawe uitbrei.
Daar is iets besonders aan 'n gedrukte koerant. Die reuk van vars ink, die bladsye wat oopgevou word, die koppie koffie langs jou en die nuus wat jy rustig deurlees. Jy kan dit op die tafel los, later weer optel, vir iemand anders aangee of 'n interessante artikel uitknip en bêre. Dalk is dit net ons joernaliste wat so nostalgies oor papier raak, maar ek glo daar is steeds plek daarvoor in Barberton.
'n Gemeenskapskoerant word nie bloot deur die mense in 'n redaksie aan die lewe gehou nie. Dit moet deel wees van die dorp en sy mense. Plaaslike besighede speel hierin 'n belangrike rol. Advertensie-inkomste maak dit moontlik om 'n gedrukte koerant uit te gee, terwyl die koerant op sy beurt 'n platform bied waarop ondernemings hul produkte, dienste en aanbiedings onder die aandag van lesers kan bring.
Met die Kersseisoen om die draai, is dit boonop 'n goeie geleentheid om inwoners aan te moedig om plaaslik inkopies te doen. Barberton het baie om te bied, maar ons nooi ook besighede van Nelspruit uit om te adverteer. Ons inwoners ondersteun immers daagliks ondernemings daar.
Wat ons redaksionele inhoud betref, bly ons getrou aan dit waarvoor De Kaap Echo van die begin af staan: gemeenskapsnuus. Ons gaan nie sensasie of moord en doodslag gebruik om verkope te probeer jaag nie. Daar sal natuurlik plek wees vir politieke verwikkelinge, misdaad en ander belangrike nuus wanneer dit ter sake is, maar sensasie sal nooit ons dryfveer wees nie. Ons ding nie met ander publikasies mee om eerste te wees, die meeste negatiewe nuus te plaas of die grootste lawaai te maak nie.
Dit beteken nie dat ek die probleme gaan ignoreer nie. Gemeenskapsjoernalistiek behels ook dat ons vrae vra, verantwoordbaarheid eis en aandag gee aan sake wat inwoners raak. Daar is egter soveel meer aan Barberton as die probleme waarmee die dorp worstel. Ek wil vertel van mense wat iets besonders bereik, al is dit nie noodwendig iets groots nie en ek wil aandag gee aan organisasies wat 'n verskil maak, ondernemings wat groei en gewone Barbertonners met buitengewone verhale. De Kaap Echo wil herinneringe wakker maak, ons dorp se geskiedenis lewend hou en die klein dinge raaksien wat dikwels ongemerk verbygaan. Bowenal wil ons hê mense moet hul koerant geniet.
Ek wil ook graag sien dat De Kaap Echo help om besoekers na Barberton te lok. Ons dorp is immers nie verniet met die Genesis of Life verbind nie. Die Barberton Makhonjwa-berge, wat in 2018 op UNESCO se wêrelderfenislys geplaas is, bevat van die oudste en bes bewaarde rotsformasies ter wêreld, waarvan sommige sowat 3,6 miljard jaar oud is. Hierdie geologiese erfenis bied waardevolle insig in die vroeë aarde en die omstandighede waarin lewe ontstaan het. Ons woon in 'n omgewing met 'n buitengewone geskiedenis, natuurskoon en toerismepotensiaal wat verdien om raakgesien te word.
Lesers is welkom om foto's, nuuswenke en interessante gebeure met my te deel. Ek kan nie oral tegelyk wees nie, en dikwels lê die beste stories juis daar waar ek nie self teenwoordig is nie. Op 11 Desember word 3 500 eksemplare van ons eerste gedrukte uitgawe gratis by uitgesoekte verspreidingspunte en adverteerders beskikbaar gestel.
Anchen het ook 'n beroep op die sakegemeenskap gedoen om die koerant te ondersteun: “'n Gemeenskapskoerant bou dorpstrots, versterk mense se moraal en gee 'n dorp nuwe aansien. Ek is lankal terug in my eie vallei, die Wes-Kaap, maar my geloof in Barberton en sy mense het nooit verander nie. Ek vra dat die sakegemeenskap werklik hul gewig ingooi en veral Lynette op die hande dra. Sy doen baie met bitter min. Ons advertensietariewe is selfs laer as dié van die vorige koerant in 2014. iOlogue Media het die afgelope byna twee jaar feitlik alle koste self gedra, met die ondersteuning van 'n handjievol lojale adverteerders. Ons is nie hier om ryk te word nie, maar ons bedryf steeds 'n besigheid wat finansieel volhoubaar moet wees.”
Ek en Anchen hoop dat hierdie eerste uitgawe die grondslag sal lê vir 'n koerant wat nog lank deel van die dorp se lewe sal wees. Onthou, ek is in ons dorp. Ek is lief vir alles hier en deel van die gemeenskap, so stuur my gerus 'n WhatsApp, want Barberton kry weer sy eie gedrukte koerant en dit is tyd om die stories van ons mense weer op ons eie papiere te vertel.
𝓛𝔂𝓷𝓮𝓽𝓽𝓮.
Comments ()