Diabetes: Die siekte wat nie nét die diabeet raak nie

Internasionale Diabetesdag herinner ons daaraan hoe belangrik dit is om die tekens betyds te herken en te verstaan dat diabetes nie 'n mens se lewe hoef te definieer nie.

Daar is sekere dinge wat 'n mens as ouer nooit vergeet nie. Die dag waarop jy hoor dat jou kind 'n ernstige siekte het, is beslis een daarvan. Dit is 'n oomblik wat jou wêreld ondersstebo gekeer word en jou met 'n vrae, vrese en selfs skuldgevoelens laat.

Verlede week was Internasionale Diabetesdag gevier. Dit het my laat terugdink aan 'n tyd in ons gesin se lewe wat ek waarskynlik nooit heeltemal sal vergeet nie. As kind het ek nie iemand geken wat diabetes gehad het nie. My eerste werklike kennismaking met die siekte was toe my oudste seun, Braam, op die ouderdom van 11 met tipe 1-diabetes gediagnoseer is.

Dit was 'n besonder moeilike tyd vir ons as gesin. Ek onthou hoe ek gewonder het waarom my kind met so iets gestraf moes word. Vandag weet ek natuurlik dat diabetes nie 'n straf is nie, maar destyds was ek 'n ma wat gesukkel het om te verstaan en vrede te maak met die nuus dat haar kind vir die res van sy lewe met 'n chroniese siekte sou moes saamleef.

Wanneer ek nou terugdink, wonder ek soms of ons die tekens vroeër kon herken het as ons meer geweet het van diabetes. Braam het snags gereeld opgestaan om toilet toe te gaan en daarna badkamer toe gegaan om water te drink. Dit was eintlik duidelike waarskuwingstekens dat iets nie reg was nie, maar ons het dit destyds nie met diabetes verbind nie.

Toe hy een aand baie siek geword het, en aanhoudend begin opgegooi het, het ons met hom deurgejaag hospitaal toe. Daar het die werklikheid ons behoorlik getref. Sy bloedsuikervlak was byna 30 en hy was reeds op die rand van 'n diabetiese koma. Hy het 'n week lank in die hospitaal gebly.

Ek onthou nog die angs toe die dokters uiteindelik gesê het hy kan huis toe gaan. Hier was my kind, 11 jaar oud, met tipe 1-diabetes wat homself sou moes inspuit. Hoe op aarde sou hy of ek dit regkry? Die dokters en verpleegpersoneel het my egter gerusgestel. Hulle sou hom en ons alles leer wat ons moes weet. Ons moes leer om met die siekte saam te leef, en dit was 'n heel nuwe wêreld wat vir ons oopgegaan het.

Gelukkig was daar ook mense wat ons pad makliker gemaak het. 'n Vriendin in Barberton, Rinie Louw, wie se seuntjie reeds op tweejarige ouderdom met diabetes gediagnoseer is, was 'n groot steunpilaar. Sy het my herhaaldelik verseker dat die lewe nie daar eindig nie en dat dit met die regte kennis en sorg hanteerbaar is. Een ding wat sy egter telkens beklemtoon het, het my bygebly: Ek moes nie die verantwoordelikheid vir die siekte op myself neem nie. Dit was Braam se siekte en hy sou moes leer om daarmee saam te leef.

Dit was dalk een van die moeilikste lesse vir 'n ma om te leer. Jy wil jou kind beskerm, en elke probleem vir hom oplos, maar daar kom 'n tyd wanneer jy moet aanvaar dat jy nie alles namens jou kind kan doen nie. Jy kan hom ondersteun, leer en bystaan, maar uiteindelik moet hy self verantwoordelikheid aanvaar.

Natuurlik was die pad nie altyd maklik nie. Diabetes het soms soos 'n ongewenste ekstra familielid gevoel wat oral saamgaan en gereeld sy sê wil sê. Dit het ook die res van die gesin geraak. Ek het opgehou koek bak en sommer ook minder lekkernye gekoop, want hoe verduidelik jy aan een kind dat sy boeties en sussie koek mag eet, maar hy nie? Die maklikste oplossing was om dit dan maar liewer glad nie in die huis te hê nie. My ander kinders het waarskynlik soms gevoel dat hulle ook onder die vaandel van diabetes moes leef!

'n Mens kan egter nie 'n kind se kinderjare heeltemal wegneem nie. Braam was maar net 'n kind wat van lekkergoed en soetgoed gehou het. Ons het menige keer lekkergoedpapiertjies en leë koeldrankblikkies in sy skooltas of in sy kas by die huis ontdek. Hy kon soms behoorlik dwars wees, en vandag kan ek met 'n glimlag daaraan terugdink. Hy wou waarskynlik net soos enige ander kind wees en nie voortdurend voel dat hy anders is nie.

Daar was ook ander uitdagings. Dit was hartseer om te sien hoe daar, as volwassene, soms teen hom gediskrimineer is en hoe sekere werksgeleenthede buite sy bereik geplaas is bloot omdat hy diabetes het. Dit is iets wat my steeds pla. 'n Siekte behoort nie 'n mens se vermoëns, talente of potensiaal te bepaal nie.

Mense met diabetes kan suksesvolle en produktiewe lewens lei, mits hulle toegang tot die nodige ondersteuning en sorg het.

Vandag is Braam 'n man met sy eie gesin. Ons het deur die jare 'n paar noue ontkomings gehad en daar was oomblikke van groot kommer, maar hy is steeds hier en geniet, ondanks die uitdagings, redelike goeie gesondheid. Soos hy ouer geword het, het hy ook al hoe meer besef hoe belangrik dit is om na homself om te sien en verantwoordelikheid vir sy gesondheid te aanvaar.

Ek het geleer dat 'n mens nie jou kind se siekte kan wegneem nie, hoe graag jy ook al wil. Jy kan net daar wees, ondersteun, aanmoedig en soms maar saam asem ophou. Dit bring my terug by Internasionale Diabetesdag en die belangrikheid van bewusmaking. Daar is vandag baie meer inligting beskikbaar as toe Braam gediagnoseer is.

Gereelde urinering, veral snags, buitengewone dors, onverklaarbare gewigsverlies, moegheid en 'n kind wat skielik siek word, kan onder meer tekens van tipe 1-diabetes wees. Naarheid en braking kan op 'n ernstige komplikasie dui en vereis onmiddellike mediese aandag. Dit is nie iets wat 'n mens moet probeer tuis behandel nie.

Tipe 1-diabetes kan nie deur ouers se optrede verhoed word nie. Dit is 'n outo-immuunsiekte waarin die liggaam se immuunstelsel die selle in die pankreas aanval wat insulien vervaardig. Dit is dus nie die gevolg van te veel suiker eet of 'n verkeerde leefstyl nie. Dit is 'n belangrike onderskeid wat mense steeds moet verstaan.

As ek een ding uit ons gesin se ervaring geleer het, is dit dat kennis werklik 'n verskil kan maak. Nie noodwendig om die siekte te voorkom nie, maar om dit betyds te herken, vinnig hulp te kry en moontlik ernstige komplikasies te voorkom. Miskien moet ons ook ophou om mense met diabetes in 'n boksie te plaas. Hulle is nie minder bekwaam, minder onafhanklik of minder in staat om 'n vol lewe te lei nie. Hulle het bloot 'n ekstra verantwoordelikheid wat die meeste van ons as vanselfsprekend aanvaar: om elke dag hul gesondheid fyn dop te hou.

Vir my sal diabetes altyd 'n baie persoonlike onderwerp bly. Ek dink steeds terug aan daardie bang ma van 11 jaar gelede wat nie geweet het hoe sy die pad vorentoe sou aanpak nie. As ek vandag vir haar iets kon sê, sou dit wees: Haal asem. Dit gaan nie altyd maklik wees nie, maar jou kind se lewe is nie verby nie. Hy het nog drome om te droom, dinge om te bereik en 'n hele lewe om te leef.
Dalk is dit die belangrikste boodskap van alles: Diabetes is deel van iemand se lewe, maar dit is nie die hele mens nie.

𝓛𝔂𝓷𝓮𝓽𝓽𝓮.