Van klein dorpie tot groot drome

Kobie du Preez se lewe is ’n verhaal van volharding, kreatiwiteit en passie.

Van klein dorpie tot groot drome
Kobie du Preez tydens haar deelname aan die IFAA Wêreld Veld Boogskietkampioenskappe.

Wanneer mens met Kobie du Preez gesels, raak dit gou duidelik: hier is ’n vrou wat nie net een lewenspad gekies het nie, maar talle. Sy is ’n toegewyde onderwyser, ’n passievolle juweelmaker, ’n toegewyde veld- en natuurliefhebber én ’n internasionaal bekroonde boogskutter. Haar lewensverhaal is een van volharding, kreatiwiteit en ’n diep liefde vir die natuur.

Kobie is in die middel-sestigerjare in Brits gebore en het op ’n plot naby Soutpansdrif grootgeword. Sy kom uit ’n hegte gesin van sewe susters en een broer, en onthou haar kinderjare in ’n klein vier-man plaasskool waar almal mekaar geken het.  “Ek was maar vyf toe ek skool toe is en in my standerd vyf jaar was ons maar 14 leerlinge.”

Met vakkeuses vir die hoërskool is sy deur ‘n onderwyser ontmoedig om nooit kuns as vak te kies nie. “Daardie dag het iets in my hart doodgeloop,” vertel sy, “maar ek het altyd geweet ek is eintlik ’n kunstenaar, al hou my kop ook van wetenskap. Later in my lewe het ek geleer dat die twee hand aan hand loop, dink maar aan Leonardo da Vinci.”

Na die klein laerskooltjie was die groot hoërskool vir haar ‘n totale skok en het sy totaal weggeraak in die massas. Ná hoërskool het sy Analitiese Chemie aan Technikon Pretoria gaan studeer en in dié tyd met haar man, Roelf, getrou. Hy het in die Barberton-omgewing grootgeword en sy het dadelik aanklank by die dorp en omgewing gevind. Hulle het vir ’n paar jaar in Pretoria gewoon waar sy vir UKOR (nou NECSA) gewerk het, en waar haar twee dogters ook gebore is.

Hoewel haar loopbaan aanvanklik in die wetenskappe gelê het, het Kobie se kreatiewe kant gou weer na vore gekom. Van handgemaakte kleikrale en gevlegte mandjies van koringhalms en are, tot pottebakkery, loodglas, pewter en mosaïek, sy het telkens nuwe maniere ontdek om haar handewerk uit te leef. Alhoewel kosmaak vir haar net ‘n noodsaaklike taak is, kook sy die heerlikste konfyte.

’n Groot keerpunt was toe sy ontdek dat glas selfs in ’n mikrogolfoond gesmelt kan word teen temperature van tot 1 400 °C. “Dit het vir my ’n hele nuwe wêreld oopgemaak. Vandag maak ek unieke glasjuwele en kan ek dit selfs self in silwer set.” In 2023 het sy haar droom verwesenlik om as silwersmid opgelei te word.

Kobie se glasjuwele wat ook in silwer geset word.

Die natuur is vir Kobie onlosmaaklik deel van haar bestaan. As ‘n destyds gekwalifiseerde Overland toergids lei sy en Roelf menige 4x4 toere tot sovêr as Tansanië. ‘n Groot liefde is ook die see, en sy is ‘n ywerige skubaduiker. Dis die natuur wat haar kreatiewe en wetenskaplike nuuskierigheid voed. Haar trots is die ontdekking van ’n seeskulpie wat in 2007 na haar vernoem is, Mitrella dupreezae. Dit word gevind in die derms van Slingervisse wat dit eet, diep in die waters waar dit voorkom.

Selfs tydens die Covid pandemie het haar fyn waarneming tot iets besonders gelei toe sy ’n spinnekop bestudeer het. Hierdie waarnemings is later saam met ‘n kenner gepubliseer in ’n wetenskaplike artikel in die SANSA Newsletter.

Nadat die gesin in 2003 na ’n plaas buite Barberton verhuis het, het Kobie besef dat sy nie weer in haar chemie-beroep sou kan werk nie. Sy het eers as joernalis gewerk vir die SA Vrugtejoernaal en later haar onderwyskwalifikasie voltooi toe sy gevra is om af te los by die plaaslike hoërskool. Vandag is sy ’n gewaardeerde Fisiese Wetenskappe-onderwyser vir senior leerders by Hoërskool Barberton.

Met die natuur op hulle voorstoep, skaal die gesin af met die 4x4 toere. Kobie spandeer ure in die veld en ken elke hoekie en draaitjie van hulle plaas. Elke organisme wat sy teëkom word gefotografeer en op ‘n databasis geplaas.

’n Tragiese keerpunt was in 2010 toe weerlig hul huis afgebrand het. “Ons het net met die klere aan ons lywe uitgestap. Ons moes heeltemal van voor af begin,” vertel sy. Tog het sy, in plaas van moed te verloor, haar kreatiwiteit gebruik as terapie en weer nuwe kunsvorme begin ontdek.

Kobie in haar nasionale boogskiet kleure en (regs) in aksie.
Boogskiet het aanvanklik as ’n stokperdjie saam met haar man begin, maar dit het later ’n passie en prestasiepad geword. Kobie het in 2007 haar nasionale kleure in World Archery FITA-kompetisies verwerf.

Na ’n paar jaar se gesondheidsprobleme het sy in 2016 weer ernstig begin skiet en haar toegespits op veldskiet. Hier het sy haar droom om ’n atleet te wees, voluit bewaarheid. Sy het jaar na jaar provinsiale kleure verwerf en in 2023 die Afrika-kampioenskappe in Namibië gewen. In 2024 verteenwoordig sy Suid-Afrika op die Wêreldkampioenskappe in Brasilië en bring ’n brons medalje huis toe. Vanjaar (2025) het sy ’n silwer medalje by die Afrika-kampioenskappe in Zambië gewen en ’n vierde plek in die 3D Wêreldkampioenskappe verwerf.

’n Skouerbesering het haar onlangs tot stilstand gedwing, maar Kobie sien dit bloot as nog ’n deel van die pad. “Ek weet ek kan nie altyd alles wen nie, maar solank ek my beste gegee het, was ek suksesvol. Die rustyd gee my weer tyd om mooi terrariums te bou, en trek my aandag af van die operasie en rehabiliatasie wat voorlê.”

Een van haar pewter, asook ander, kunswerke.
Vir Kobie is haar leuse eenvoudig, maar kragtig: “I want to be the best me”. Dit is die dryfkrag agter haar lewe as wetenskaplike, kunstenaar, onderwyser en atleet.

Sy glo sy volg hiermee ook in haar ma se voetspore, ’n talentvolle vrou wat haarself aan haar groot gesin toegewy het. Kobie, met al haar uiteenlopende talente, dra daardie erfenis verder.

Besoek gerus Kobie se Facebook-blad of WhatsApp haar indien jy belangstel om van haar kuns aan te skaf.