Tragiese ongeluk verander vyf jongmense se lewens onherroeplik

’n Dag van atletiek en vriendskap het in ’n hartverskeurende tragedie geëindig toe vyf jongmense in ’n ernstige ongeluk op die R40 betrokke was.

Tragiese ongeluk verander vyf jongmense se lewens onherroeplik
Tristan Jansen van Vuuren, wat die voertuig bestuur het, is tans in Rob Ferreira Hospitaal waar hy ernstige breinbeserings opgedoen het.

Wat begin het as ’n Saterdag van sport en samehorigheid tydens 'n atletiekbyeenkoms by Hoërskool Barberton, het in ’n hartverskeurende tragedie geëindig.

Teen ongeveer 14:45 het ’n ernstige motorongeluk by die T-aansluiting op die R40 buite Barberton plaasgevind.

Die voertuig waarin vyf jongmense gereis het, het met ’n Land Rover gebots. Volgens ons inligting is niemand in die Land Rover beseer nie, maar die vyf mense, Tristan Jansen van Vuuren, Stephen en Bella van der Lith, Bianca Nortje en Chaandré Meyer, se lewens, asook dié van hul families en vriende, is onherroeplik verander.

Al vyf is per ambulans na Nelspruit Medi-kliniek en Rob Ferreira Hospitaal geneem vir mediese behandeling. Bianca het ongelukkig daar aan haar beserings beswyk.

Tristan, wat die voertuig bestuur het, is tans in Rob Ferreira Hospitaal waar hy ernstige breinbeserings opgedoen het. Hy het nog nie sy bewussyn herwin nie en is in ’n koma.

Stephen, wat links voor gesit het, het geen breinbesering opgedoen nie, maar het veelvuldige ander beserings en sy rehabilitasie sal na verwagting etlike maande duur.

Bella (10) en Chaandré, wat agter in die voertuig was, het ook veelvuldige beserings en frakture opgedoen. Verskeie operasies is reeds op Stephen, Bella en Chaandré uitgevoer. Hulle is tans stabiel en word in die intensiewesorgeenheid en hoësorgeenheid van Medi-kliniek behandel. Bella sal moontlik later in die week ontslaan kan word.

Die drie wat die ongeluk oorleef het, sal almal vanjaar hul twintigste verjaarsdae vier. Bianca sou ook twintig geword het hierdie jaar.

Op hierdie stadium veg Tristan steeds vir sy lewe. ’n Versoek is op sosiale media geplaas om sy ouers finansieel by te staan sodat hy na Medi-kliniek oorgeplaas kan word vir verdere behandeling. Nicolene Burnett het ’n fondsinsamelingsprojek via BackaBuddy van stapel gestuur om die gesin te ondersteun.

Lesers wat ’n bydrae wil maak, kan HIER of op die skermskoot kliek.