Ons het ge’ROCK’ by OppiDam
OppiDam het die naweek behoorlik gewys dat ’n musiekfees nie groot hoef te wees om ’n groot indruk te maak nie.

Wow, wow, WOW! Wat ’n naweek!
Die OppiDam Musiekfees was ’n GROOT FEES. Voor iemand my nou verkeerd verstaan, laat ek dit sommer dadelik sê: nee, OppiDam is nie InniBos nie. Dit probeer ook nie wees nie. Dit is kleiner, meer intiem en het sy eie lekker kuier-atmosfeer en karakter, maar groot in gees? Verseker!

Nou wil ek spesifiek praat met die Barbertonners. Hoeveel keer hoor ek nie in die winkels en strate van ons mooie dorpie: “Hier gaan nooit iets in die dorp aan nie”? Wel, mense, hierdie naweek was daar iets om te doen, en nogal iets opwindend en baie lekker. Jy het die geleentheid gehad om vir twee dae by OppiDam te kuier, jou skoene uit te skop, iets kouds te drink, lekker te eet en musiek uit die boonste rakke te geniet. Daar was BAIE Barberton-mense. As jy enige een van hulle vra hoe dit was, is ek redelik seker die antwoord gaan iets in die lyn wees van: “Wanneer is die volgende een?”


Vir my persoonlik was die naweek ook ’n bietjie nostalgies. Ek het terugverlang na my dae as korrespondent vir die Laevelder en later as voltydse redakteur van die Barberton Times. Ek is nie iemand wat graag terugkyk nie, maar daardie tyd in my lewe staan nogal uit. Die kontak met mense, die soeke na die regte voorbladfoto, die vriendskappe, die klein, intieme kantoor en natuurlik die skryfwerk. Man, ek het floreer…. en natuurlik ook hard gekuier....


Die tyd het intussen aangestap en vandag is ek nie meer die 'girl' van daardie dae nie. Heelwat ouer, hopelik wyser, en al wil die lyf nie altyd byhou nie, is die gees nog baie gewillig. Dit was presies daardie gees wat die naweek weer lekker wakker geword het. Om by OppiDam skouers te vryf met sangers en 'bands' waarvan ek sommige nog net oor die radio gehoor het en van ander glad nie voorheen geweet het nie, was ’n belewenis.
Nicholis Louw staan bo-aan my lys. Ek was jare gelede een van daardie vrouens wat saam met vriendinne behoorlik gegil het tydens sy optrede by Blue Moon. Hierdie keer kon ek met hom gesels en dit was interessant om te sien hoe die man oor die jare gegroei het, nie net as kunstenaar nie, maar ook in sy uitkyk op die lewe. Hy is rustiger, miskien is dit die getroude lewe of die vaderskap. Moet egter nie dink daardie rustigheid het op die verhoog gegeld nie. Daar het ons behoorlik GE-ROCK!
Cinema het my sommer reguit teruggevoer na die middel-’80’s. Ek onthou hul musiek, en kyk, my voete wil steeds nie stilstaan wanneer dit gespeel word nie. Die groep het oor die jare gegroei van ’n jong internasionale rockgroep tot ’n groep wat steeds ’n behoorlike gehoor trek. Die feesgangers het heerlik saamgesing en gedans, en die nuwe hoofsanger, Steven Nell, mag maar sing. Die ander nuwer lid en eerste vrou in die band, Connie Bentlage op daai saksofoon! Nou praat ons!
Drommedaris het almal, van jonk tot oud, op hul voete gehad. Dit was ook lekker om Dewan van Draadkas, wat hier in Barberton grootgeword het, weer te sien. Daardie jongman gee nuwe betekenis aan die woord 'talent'.


My onderhoud met Freckled Elvis was vet pret en het vir baie lag gesorg. Hul optrede was net so lekker. Van ballades tot rock het hulle behoorlik gewys hoe veelsydig hulle is en die fees op ’n hoë noot afgeskop én afgesluit. Dan praat ek nie eers van Idol-wenner Ivan Roux en ons eie Nelspruiters, Coenie Naudé en Kris Ray, nie. Elkeen het op sy besondere manier tot die lekkerkry-gevoel van die fees bygedra.
Narboth Mathole was vir my ’n nuwe naam, maar WOW, het dié man my verras. Veelsydig, saggeaard en ongelooflik nederig. Een van daardie kunstenaars wat jy dalk nie vooraf ken nie, maar wat jy beslis ná die tyd onthou.


Dan is daar Pieter Rischmüller. Oor Pieter kan ek eintlik ’n hele artikel op sy eie skryf. Nie net het hy saam met sy 'band' ’n voetestamp-opvoering gelewer nie, maar hy was ook, soos die afgelope drie jaar, betrokke by die organisering van die fees. Saam met Jaco Landsberg, sakeman en eienaar van OppiDam, het hulle ’n propvol twee dae se vermaak en aktiwiteite saamgestel. Buiten vir die musiek was daar ’n verskeidenheid stalletjies met omtrent alles wat ’n mens op ’n fees kan begeer: kos en drinkgoed, leerprodukte, skoene, speelgoed en nog vele meer.
Natuurlik moet ’n mens die minder glansryke kant van ’n groot kuier ook noem. Jaco en Pieter het aan veiligheid gedink. ACS Spartan Sekuriteit van Nelspruit het gesorg dat almal veilig is en die ambulansspan van Pricemed Nooddienste was byderhand vir enige noodgevalle. Gelukkig was daar, sover ek gehoor het, net een ernstige voorval: ’n dame met ’n gebreekte gewrig nadat die man, op wie se skouers sy gesit het, gestruikel en met haar geval het. Ons gaan nie verder uitwei oor daardie insident nie. Kom ons sê maar net: sommige mense kyk na ’n verhoog, ander mense klim sommer op iemand se skouers.
Die kampplekke en akkommodasie was vol. Die Ararat-kroeg en restaurant kon skaars voorbly met glase volhou en pizzas en hamburgers voorsien. Niemand was juis haastig om huis toe te gaan nie. Die jonger kinders het later die aand een vir een begin omdop en onder tafels en op bankies snoesig aan die slaap geraak terwyl ma en pa hulle bollas losgemaak het en die musiek onverpoost voortgegaan het.
Vrydagaand was daar ’n byt in die lug, maar Saterdag het die son behoorlik sy kant gebring en het feesgangers reeds vroeg op die terrein begin opdaag. Dit was een van daardie naweke waar mense net... kuier. Dit is dalk presies wat OppiDam so uniek en lekker maak. Dit is nie ’n reuse-musiekfees waar jy kilometers moet stap om by die volgende verhoog uit te kom en jou vriende per WhatsApp moet probeer opspoor omdat jy hulle 20 minute gelede verloor het nie. Dit is kleiner en baie meer persoonlik. Vir ons hier in die De Kaap-vallei is dit verseker binne bereik.
Natuurlik kan geen fees suksesvol wees sonder die ondersteuning van besighede en adverteerders nie. ’n Groot dankie aan al die De Kaap Vallei-besighede wat die fees ondersteun het. Daar is eenvoudig te veel om hier op te noem, maar julle name sal verskyn in die artikel wat later die week gepubliseer word.
Bottomline. As jy die naweek by OppiDam was, weet jy reeds waarvan ek praat. As jy nie daar was nie... het jy uitgemis. Nie net so ’n bietjie nie. BIG TIME!
Vir volgende jaar is daar dus eintlik net een vraag: Waar gaan jy wees?
OppiDam Musiekfees is hier om te bly!
𝓛𝔂𝓷𝓮𝓽𝓽𝓮.






Comments ()