NHS-leerder van Barberton trap die myle af na SA-sukses
Barberton se 16-jarige Jemma Barnard, 'n leerling van NHS, maak tans opslae in baanfietsry en is gekies om Suid-Afrika by die Afrika Spele in Abuja, Nigerië te verteenwoordig.
Barberton lewer die afgelope tyd ’n indrukwekkende groep jong atlete op en 16-jarige Jemma Barnard is beslis een van die name om dop te hou.

Jemma het van 1 tot 6 April aan die Suid-Afrikaanse baanfietsrykampioenskappe in Bellville deelgeneem, waar sy haar staal gewys het met twee individuele bronsmedaljes. Sy was ook deel van die span wat ’n brons in die span-sprint en ’n goue medalje in die span-pursuit verower het.
Haar prestasie het nie ongesiens verbygegaan nie. Kort ná die kampioenskappe is sy gekies om Suid-Afrika by die Afrika Spele in Abuja, Nigerië, van 10 tot 17 Mei te verteenwoordig.
Volgens haar pa, Werner Barnard, moet hulle self die fondse vir haar reis en deelname betaal. “Ons het met die verkoop van lootjies begin om fondse in te samel om haar droom moontlik te maak,” het hy gesê.
Jemma, wat in Barberton gebore is en haar laerskoolloopbaan by Laerskool Barberton Primary voltooi het, is tans ’n graad 11-leerder aan Hoërskool Nelspruit. Sy kom uit ’n sportmal familie waar haar pa Werner en haar ma Megan reeds op provinsiale en nasionale vlak in ringbal presteer het. Haar sussie, Abigail is ‘n eerste jaar onderwysstudent en het ook haar Mpumalanga kleure in fietsry verwerf.

Haar liefde vir fietsry het in graad 6 begin toe sy aan die TWK-skole reeks deelgeneem het. Dit was gou duidelik dat sy oor besondere talent beskik. In 2024 het sy aan die SA XCO-kompetisie in Pietermaritzburg deelgeneem, maar haar deelname is kortgeknip deur ’n ernstige val waarin sy haar hand en sleutelbeen gebreek het. Die beserings het chirurgie vereis, met ’n plaat wat ingeplant is.
Waar so ’n terugslag baie jong atlete sou laat tou opgooi, het dit vir Jemma net meer vasberade gemaak.
“Sy was meer gemotiveerd, het selfdissipline toegepas en harder gewerk,” het Werner aan De Kaap Echo vertel. Ná haar herstel het sy aan twee nasionale padfietskampioenskappe deelgeneem en albei kere onder die top 10 geëindig.
In Januarie vanjaar het Jemma ’n kontrak met On Track NXTG onderteken wat fokus op pad- en baanfietsry. Tydens haar deelname saam met die span het sy weer uitgeblink met twee individuele bronsmedaljes, terwyl die span ook ’n brons- en ’n goue medalje ingepalm het. Dit het gelei tot haar insluiting in die Suid-Afrikaanse span.

Benewens die Afrika Spele wag daar nog groot geleenthede. Die span sal ook van 23 Junie tot 2 Augustus in België aan 'n wedren deelneem. Jemma lê tans derde in die nasionale Mzansi padfietsreeks. Sy is ook op die kortlys vir die wêreldkampioenskappe wat in September in Kanada plaasvind.

Al hierdie internasionale deelname kom egter teen ’n prys. Volgens haar pa moet ongeveer R200 000 ingesamel word om die kostes van oorsese kompetisies te dek, aangesien daar geen staatsbefondsing is nie.
Die gemeenskap word gevra om hand by te sit. ’n Fondsinsameling is van stapel gestuur waar ondersteuners kaartjies teen R100 kan koop en sodoende ’n kans staan om ’n naweek in Marloth Park ter waarde van R5 000 te wen. Die trekking sal op 15 Junie regstreeks op Facebook plaasvind.
Belangstellendes wat Jemma finansieel wil ondersteun, kan bydraes maak na: Jemma Barnard Cycling; Capitec-rekening: 2536033208; Bankkode: 470010. Bewys van betaling, saam met kontakbesonderhede, kan gestuur word per epos of via WhatsApp.
Daar is ook ‘n geleentheid om haar te ondersteun deur die Back a Buddy projek.
Met haar talent, deursettingsvermoë en die steun van haar gemeenskap, lyk die pad vorentoe belowend vir hierdie jong Barbertonse fietsryer.
Comments ()