πŸ“½οΈ Kultuurkonsert sorg vir hope pret

Weens ’n propvol jaarprogram is daar besluit om eerder vanjaar ’n kultuurkonsert as die tradisionele musiekblyspel aan te bied.

πŸ“½οΈ Kultuurkonsert sorg vir hope pret
Ouers is verwelkom deur Charisse Grobler, Pam Willemse, Karen Lourens, Nelis Bodenstein, Rhyno Schilling en Stephen van der Lith. Foto verskaf deur die skool.

Laerskool Barberton Primary het vandeesweek die verhoog op ’n ander manier betree met ’n gesellige kultuurkonsert wat gewys het dat talent, kreatiwiteit en ’n goeie sin vir humor ’n wenkombinasie is.

Weens ’n propvol jaarprogram is daar besluit om eerder vanjaar ’n kultuurkonsert as die tradisionele musiekblyspel aan te bied. Die graadonderwysers het koppe bymekaar gesit en leerders wat graag wou deelneem, is die geleentheid gebied om hul talente te wys. Die resultaat was ’n kort, maar heerlike aand vol vermaak en lekker lag.

Die skoolkoor het ’n paar liedjies gesing, terwyl die grondslag- en seniorfase gehore met hul onderskeie praatkore vermaak het. Die jongspan het behoorlik die gehoor se harte gesteel met hul besonderse vertolking van wat ’n krokodil nou eintlik is. Die graad 5-leerders het ’n kulturele dans aangebied, en die graad 7’s het met hul tromgroep ritme na die verhoog gebring.

Skoolkoor.

Die hoogtepunt van die aand was egter sonder twyfel die onderwysers se optrede, wat bewys het dat opvoeders nie net in die klaskamer weet hoe om ’n gehoor te boei nie! ’n Groepie bejaarde dames, met een man tussen hulle, het hul beste probeer om Ou Ryperd te sing. Die enigste probleem was dat die sang nie heeltemal by die musiek gehou het nie en die tempo boonop heelwat stadiger as die oorspronklike was. Maar soos almal weet, doen ’n mens mos dinge rustiger namate die jare aanstap!

Senior spreekkoor.

Daarna is die gehoor verder vermaak met ’n oefensessie, kompleet met die gebruiklike gekla en gekerm, gevolg deur ’n lewendige dans. Selfs die man in die rolstoel het wonderbaarlik opgestaan om by die pret aan te sluit. Die gehoor kon nie anders as om saam te lag en die onderwysers se geesdrif te geniet nie.

'n Paar van die onderwysers voor hulle op die verhoog verskyn het.

Buite die skoolsaal is leerders se kunswerke uitgestal, wat ouers die geleentheid gebied het om hul kinders se kreatiwiteit en handewerk te bewonder. By die voorportaal is besoekers hartlik verwelkom deur onderwysers, die skoolhoof en adjunkhoof, almal geklee in tradisionele drag.

Die kultuurkonsert was dalk kort en kragtig, maar dit was beslis ’n aand propvol talent, samehorigheid en humor. Dit het weereens bewys dat skool nie net oor boeke en lesse gaan nie, maar ook oor die geleenthede om saam te werk, jouself uit te leef en sommer lekker saam te lag.


🎢 π–£π–Ύπ—„π–Ίπ–½π–Ύπ—Œ π—Œπ–Ύ π—ˆπ—ˆπ—‹π—Œπ—‰π—‹π—ˆπ—‡π—„π—…π—‚π—„π–Ύ π– π–Ώπ—‹π—‚π—„π–Ίπ–Ίπ—‡π—Œπ–Ύ π–½π—‚π—€π—„π—Žπ—‡π—Œ 𝗄𝗋𝗒 π—‡π—Žπ—π–Ύ 𝗅𝖾𝗐𝖾 π–½π–Ύπ—Žπ—‹ π—†π—Žπ—Œπ—‚π–Ύπ—„. π–Άπ–Ύπ—…π—„π—ˆπ—† 𝗂𝗇 𝗆𝗒 π–ͺ𝗅𝖾𝗂𝗇-π–ͺπ–Ίπ—‹π—ˆπ—ˆ-π–‘π—ˆπ—…π–Ίπ—‡π–½π—Œπ–Ύ 𝖻𝗂𝗇𝗇𝖾𝗄𝖺𝗆𝖾𝗋.