Drome word waar vir Grant de Jager, rugbyspeler van formaat
Grant de Jager se storie is een van talent, vasberadenheid en ’n diep liefde vir rugby wat hom van kleuterskool af tot by internasionale erkenning geneem het.
Barberton het deur die jare al menige sportheld opgelewer, van atlete tot krieketspelers, van rugbymanne tot swemmers, en Grant de Jager is geen uitsondering nie. Sy storie is een van talent, vasberadenheid en ’n diep liefde vir sport wat hom van kleuterskool af tot by internasionale erkenning geneem het.

Grant (21) is op 7 September 2004 in Barberton gebore by die ou Medi-Kliniek, waar dr. Estelle Marx die geboorte behartig het. Hy was die tweede seun van Johan en Cindy de Jager. Sy broer, Du-André is twee jaar ouer. Van jongs af het hy sy merk gemaak as ’n seun met ongekende energie en natuurlike sportvernuf.
In Barberton Kleuterskool was dit juffrou Henriëtte van Tonder wat gou agtergekom het dat Grant nie sommer net deelneem nie, maar uitblink. Sy het hom as Sportman van die Jaar in sy Graad R-jaar aangewys, die eerste van baie toekennings wat sou volg.
By Laerskool Barberton Primary het Grant aan feitlik elke sportsoort deelgeneem wat die skool aangebied het, behalwe sokker en seunshokkie, en oral het hy sy teenstanders in die stof laat byt. Vir vier agtereenvolgende jare is hy aangewys as Sportseun van die Jaar, en in sy Graad 7-jaar het hy die gesogte Barberton-prys ontvang, ’n eer wat toegeken word aan die leerling wat die beste presteer in akademie, sport, kultuur én leierskap.

Grant het ook sy stempel afgedruk in die swembad, waar hy by die Aqua Fun-gala rekords verbeter het en sy Mpumalanga-kleure verwerf het. Sy talent vir rugby het egter gou na vore gekom. By die Junior Rugbyklub van die laerskool is hy aangewys as Senior Rugbyspeler van die Jaar, en teen die tyd dat hy onder 12 gespeel het, was dit duidelik dat hy ’n besondere toekoms in die sport het.

Aan die begin van sy hoërskool loopbaan in 2018 het Grant ’n rugbybeurs ontvang van Hoërskool Middelburg, waar hy sy passie verder kon uitleef. Daar het hy sy Pumaskleure verwerf vir die o/15-span, en as onderkaptein sy span gelei met vasberadenheid en sportmanskap. Soos vir baie jong sportlui het Covid-19 in 2020 sy loopbaan tydelik gestuit, maar sy gees is nooit gebreek nie. As o/17-speler het hy nog daarin geslaag om vir die Pumas teen die Haaie uit te draf, en toe Craven Week vir daardie jaar gekanselleer is, het hy eenvoudig harder gewerk vir die volgende kans.
Sy toewyding is beloon toe hy as o/18 weer Pumaskleure verwerf en hierdie keer as kaptein van die span Craven Week bywoon. Nie net het sy span al hulle wedstryde gewen nie, maar Grant het ook die meeste drieë gedruk en is aan die einde van die toernooi aangewys as Craven Week Speler van die week, ’n prestasie wat die land se oë op hom gevestig het.

Na hy gematrikuleer het, het Grant ’n rugbybeurs van die Universiteit Stellenbosch ontvang en begin hy met sy Bsc Afri graad in Plant- en Grondkunde. Dit is geen verassing dat hy vir Maties op die veld uitdraf nie. In sy eerste jaar is hy aangewys as Junior Speler van die Jaar en het hy verskeie kere die “Player that Rocks”-toekenning in die Varsity Cup ontvang. ’n Besering in sy tweede jaar het hom ook nie gestuit nie. Hy het vir die “Young Guns”-span gespeel en is daar as Senior Speler van die Jaar bekroon. Teen sy derde jaar was hy weer terug in die Varsity Cup, en sy naam het sinoniem geword met toewyding en uithouvermoë.
In Junie vanjaar het sy loopbaan ’n nuwe hoogtepunt bereik toe Blitzbokke-afrigter Philip Snyman hom genooi het om deel te wees van die Springbok Sewes A-span wat aan die Africa Cup in Mauritius deelgeneem het, ’n toernooi wat Suid-Afrika uiteindelik gewen het.

Ná sy indrukwekkende vertonings is Grant ’n kontrak aangebied met die Blitzbokke, ’n droom wat waar geword het vir die jong man van Barberton.
Grant se liefde vir rugby het, volgens sy ma Cindy, “begin toe hy sy eerste rugbybal op 3-jarige ouderdom gekry het”. Sy vertel met ’n glimlag dat toe hy ouer was het hy het elke wedstryd op televisie gekyk. “Dit was die enigste tyd wat die kind stilgesit het! Hy het elke speler geken, geweet vir wie hulle speel, selfs die buitelandse spanne. Hy het wedstryde ontleed en “game plans” bestudeer. Ek moes ook elke rugbyreël leer ken!”

Grant se ouers beskryf hul rol as die “support system.” Hulle hou die pompoms vas, praat moed in en gee raad waar nodig. Sy pa, wat sy eerste afrigter was toe Grant vyf jaar oud was, bly steeds sy vertroueling en mentor. “Hy bel my na elke wedstryd,” vertel Johan trots, “ons bespreek wat hy goed gedoen het, en waar hy kan verbeter. Dit was nog altyd iets wat ons saam doen.”
Een van Grant se groot drome is om Suid-Afrika by die Olimpiese Spele te verteenwoordig as deel van die Blitzbokke. Met sy talent, werksetiek en nederigheid lyk daardie droom beslis binne bereik. “Ons het altyd gedink hy gaan dalk uitblink in swem,” sê sy ma, “maar rugby het van kleintyd af sy hart gewen. Ons bid elke dag dat sy drome waar word, maar soos hy altyd sê, alles hang af van die ‘game plan’.”


Vir die mense van Barberton is Grant de Jager meer as net ’n sportstêr, hy is ’n inspirasie, ’n herinnering dat groot drome dikwels in klein dorpe begin. En soos sy ouers sê, hulle hou steeds die pompoms vas, want hierdie jong man is nog lank nie klaar nie.

Comments ()