Die Rischmüllers het rede om fees te vier
Nelspruit se Pieter en Lanie Rischmüller het beslis rede om fees te vier nadat hulle tydens die 2026 SACMAF-toekenningsgeleentheid ’n indrukwekkende 16 toekennings tussen hulle ingepalm het.
Vir die meeste mense sou een toekenning by ’n musiekprysuitdeling genoeg rede wees vir ’n behoorlike feesviering. Om egter met 16 toekennings huis toe te gaan, is ’n heel ander storie.
Vir die Nelspruit-gebaseerde musikante Pieter en Lanie Rischmüller het die SACMAF-toekenningsgeleentheid op Woensdag, 30 September, in Pretoria in ’n besonder spesiale aand uitgeloop. Uit die meer as 30 verskillende kategorieë en spesiale toekennings, is Pieter in ses kategorieë genomineer en het al ses toekennings ingepalm, terwyl Lanie met nege nominasies die aand afgesluit het met ’n ongelooflike tien toekennings. Dit is nou ’n prestasie wat moeilik geklop gaan word.
Die glansgeleentheid het by Amorosa Wedding & Conference Venue in Kameeldrift, Pretoria, plaasgevind en het ’n formele Country Attire-tema gehad. Vir die Rischmüllers was die aand egter oor veel meer as net mooi aangetrek wees en trofeë huis toe dra. Dit was erkenning vir jare se harde werk, kreatiwiteit, deursettingsvermoë en ’n gedeelde passie vir musiek.
“Dit is moeilik om dit in woorde te beskryf,” was hul antwoord toe hulle gevra is hoe dit voel om so iets saam te bereik.
Die twee is nie net lewensmaats nie, maar ondersteun mekaar ook as kunstenaars en liedjieskrywers. Hulle verstaan eerstehands hoeveel ure, opofferings, geloof en volharding agter elke liedjie en elke prestasie lê. Om dan saam op dieselfde verhoog erkenning vir hul werk te ontvang, het die oomblik ook meer emosioneel gemaak. Nie een van hulle het die aand ingegaan met die verwagting dat die trofeë noodwendig hul name sou ophê nie.
Hoewel elke kunstenaar natuurlik hoop om te wen wanneer hy of sy genomineer word, het die twee probeer om nie vooraf enige uitslae te verwag nie. Hulle het bloot die aand begin met dankbaarheid vir die nominasies. Toe die wenners se name in die verskillende kategorieë aangekondig word, was hul weer en weer en weer uitgeroep!
Met Lanie wat uiteindelik tien toekennings uit nege nominasies ontvang het en Pieter wat ’n skoon ses uit ses behaal het, was daar volgens hulle beslis ’n hele paar oomblikke van volslae ongeloof. Elke aankondiging het nog ’n mengsel van verrassing, dankbaarheid en opgewondenheid gebring en waarskynlik ook ’n toenemende besef dat ’n groter trofeekas dalk nou nodig gaan wees.
Gaan luister hier na Lanie Rischmüller se pragtige musiek.
Onder Lanie se toekennings was Overall Songwriter of the Year en Overall Female Artist of the Year, asook ’n SACMAF International Award. Sy het ook erkenning in verskeie Country-kategorieë ontvang vir haar oorspronklike enkelsnit Cowboys Don’t Cry, haar album Come Dance With Me en haar liedjieskryfwerk. Haar oorspronklike liedjie The Beauty of God’s Plan is aangewys as Country Gospel Original Song of the Year, terwyl Dear Johnny in die Country Blues-kategorie erkenning ontvang het. Dear God het haar ook die Country Gospel Original Female Artist of the Year-toekenning besorg. Verder is sy as Country Newcomer Female Artist of the Year aangewys.

Vir iemand wat eers in 2023 ernstig aan haar musikale reis begin bou het, is dit ’n merkwaardige paar jaar. Miskien is daar niemand wat haar reis beter verstaan as haar man nie.
Toe Pieter aka Piet Pompies, gevra is hoe hy voel oor Lanie se vinnige opgang in die musiekbedryf, was sy antwoord eenvoudig. “Ek is ongelooflik trots op Lanie.” Hy weet eerstehands hoeveel werk sy insit en hoe ernstig sy haar musiek en kunstenaarskap opneem. Wat hom veral trots maak, is dat Lanie nog nooit probeer het om iemand anders te wees nie. “Sy het haar eie stem, haar eie stories en haar eie manier om musiek te benader.”
Vir Pieter is dit ’n groot voorreg om sy vrou as kunstenaar te sien groei, veral omdat hy self die uitdagings en vreugdes van die musiekwêreld ken. Volgens hom wys haar sukses wat kan gebeur wanneer talent, harde werk, geloof en volharding saamkom.
Gaan luister hier na Lanie Rischmüller se besonderse musiek.
Pieter het natuurlik ook genoeg gehad om oor trots te wees. Sy ses toekennings sluit Overall Male Artist of the Year in, asook Country Single Original Male Artist of the Year vir Old School Lovesong. Dis Bedoel is erken as Afrikaans Country Song of the Year én Afrikaans Country Male Artist of the Year. Sy liedjie Feel Good het hom verder Country Original Male Artist of the Year en Modern/Contemporary Country Male Artist of the Year besorg. ‘n Volle ses uit ses.

Dalk is die interessantste deel van die Rischmüllers se storie nie eens die indrukwekkende aantal trofeë nie. Dit is die feit dat hul fokus steeds op die musiek self bly. Die twee het SACMAF, die organiseerders, borge, beoordelaars en raadslede opreg bedank vir die erkenning en die geleentheid om deel van so ’n spesiale aand te wees. Hulle het ook hul dank uitgespreek teenoor elke radiostasie, DJ, ondersteuner, luisteraar, familielid, vriend en elke persoon wat hul musiek speel of deel.
“Geen kunstenaar bereik hierdie soort mylpale alleen nie,” het hulle gesê.
Vir die Rischmüllers gaan dit uiteindelik nie net oor die toekennings nie. Dit gaan oor die musiek, die stories, die mense wat deur die musiek geraak word, en natuurlik die voorreg om aan te hou doen waarvoor hulle lief is. Dit is dalk die mooiste deel van hul sukses.
Hulle is duidelik nog lank nie gereed om die musiek af te skakel en terug te sit met die voete op die tafel nie. Die paartjie is dankbaar vir hierdie besondere hoofstuk van hul reis en volgens hulle is dit nog net die begin. Dit is ook reeds duidelik dat Emily Lee, hul 8-jarige dogter beide ma en pa se musiekgene geërf het. Ons het nog lank nie die laaste van die Rischmüllers gehoor nie!










Comments ()