Chris Putter, opkomende rugbyster
Nog ‘n jongman, Chris Putter, gebore en getoë in Barberton, bewys dat sportvaardigheid diep in die familie se are vloei.
Chris Putter (17), ‘n graad 10 leerling van Hoërskool Barberton, het so pas teruggekeer van ‘n rugbytoernooi in Italië waar hy saam met mede spanmaat, Thando Ngwenya, sy skool, provinsie en natuurlik Suid-Afrika verteenwoordig het.

Nog ‘n jongman, gebore en getoë in Barberton, bewys dat sportvaardigheid diep in die familie se are vloei. Sy prestasies op en van die veld herinner daagliks daaraan dat harde werk, dissipline en ondersteuning van die huis af die sleutel tot sukses is.
Sy ma, Bernese, was self ’n uitblinker op sportgebied. As leerder aan Hoërskool Barberton het sy naam gemaak as ’n talentvolle netbalspeler en het sy selfs Laeveld-kleure in ringbal verwerf. Pa Cobus se sportloopbaan spreek ook boekdele. Hy het Gauteng-Noord verteenwoordig in atletiek, rugby en sagtebal, en later Laeveld-kleure in ringbal ontvang. Selfs ouboet Coben (23) het sy merk gemaak met Pumaskleure vir rugby op laerskoolvlak vir en Puma-atletiekkleure op hoërskool.

Met só ’n sterk sporttradisie was dit geen verrassing toe Chris besluit het om rugby ernstig op te neem nie. As jong tjokkertjie het hy gereeld langs die veld gestaan terwyl sy pa by die Barberton Junior Rugbyklub afgerig het, en sy broer, wat toe reeds rugby gespeel het, was sy grootste inspirasie. “Ek het grootgeword tussen die bal en die gras,” het Chris laggend gesê.

Reeds in Barberton Laerskool Primary het Chris se natuurlike aanleg vir sport na vore gekom, of dit nou in die swembad, op die rugbyveld of krieketbaan was. Maar teen die tyd dat hy hoërskool toe is, het rugby sy hart gewen en het hy besluit om daarop te fokus. Op onder-16-vlak het hy deurgedring tot die finale rondte van die Grant Khomo-proewe. Alhoewel hy nie die span gehaal het nie, het hy waardevolle ervaring opgedoen.
Vir sy ouers is dit ’n bron van trots om te sien hoe hy op die veld groei, nie net as speler nie, maar ook as jongman. “Ons sien hoe rugby hom leer om op sy eie voete te staan,” sê hulle. “Dis ’n sport wat dissipline, spanwerk en verantwoordelikheid vereis, karaktertrekke wat hom as persoon vorm.”

Chris se harde werk het vrugte afgewerp toe hy hierdie jaar aanvoerder van Barberton Hoërskool se 7’s-rugbyspan geword het. En asof dit nie genoeg is nie, het hy ook die kans gekry om in Italië te toer, waar hy saam met sy span drie wedstryde teen plaaslike klubs gespeel het. Al het hulle nie gewen nie, was die ervaring van onskatbare waarde. “Ek het soveel geleer oor spelstrategie, en ook oor myself,” vertel Chris. “Bo alles het ek nuwe vriende gemaak en besef hoe groot die rugbywêreld eintlik is.”
Hoewel hy nog nie seker is oor sy loopbaanplanne ná skool nie, weet Chris dat rugby altyd deel van sy lewe sal bly. Sy droom is om sy spel verder te ontwikkel en eendag jonger spelers te help groei, net soos hy die kans gekry het om te leer by diegene wat in hom geglo het.

Comments ()