📽️Boekkarakters in lewende lywe
Vandag, 23 April, was wêreldwyd gevier as 'World Book Day', ’n dag wat lees, stories en natuurlik geliefde boekkarakters vier.
Terwyl ’n koel en reënerige dag oor Barberton aangebreek het, het iets magics by Laerskool Barberton Primary gebeur. Die speelgrond het letterlik in ’n storieboek verander.
Vandag, 23 April, was wêreldwyd gevier as World Book Day, ’n dag wat lees, stories en natuurlik geliefde boekkarakters vier. Dit is ’n dag wat jong en oud aanmoedig om hul verbeelding los te laat en die sprokies en karakters van boeke te herontdek, en aan verbeelding was daar beslis nie ’n tekort nie.
Laerskool Barberton Primary se leerlinge het nie teleurgestel nie en het vandag hul kreatiwiteit behoorlik ten toon gestel deur as hul gunsteling boekkarakters skool toe te kom. Van superhelde tot sprokiesfigure. As jy daaraan kon dink, was dit waarskynlik êrens tussen die klaskamers en op die speelgrond te sien. Selfs van die onderwysers het saamgespeel.
Jy kon skaars twee treë gee sonder om verby ’n Spider-Man te stap, of amper teen ’n Batman vas te loop. Net toe jy dink jy het alles gesien, sweef daar ’n Cinderella verby, gevolg deur ’n groepie pixies wat waarskynlik hul pad verloor het op soek na Neverland. Tot Dr Seuss se Cat in a Hat het uit ‘n boekomslag ontsnap.
Die cowboys het gereed gestaan vir ’n denkbeeldige shoot out, terwyl prinsesse en koninginne met waardigheid deur die gange beweeg het. Sommige met meer glitter as wat die reën buite kon afwas.
Dit was nie net ’n kleurvolle dag nie, maar ook ’n belangrike herinnering aan die waarde van lees. Boekedag is meer as net aantrek en pret hê, dit moedig kinders aan om stories te ontdek, hul woordeskat uit te brei en hul verbeelding te laat groei. Die liefde vir lees en stories leef beslis sterk voor in Barberton se jong lesers.
As jy vandag dalk ’n klein superheld, prinses of selfs ’n verdwaalde pixie in die dorp gesien het, moenie bekommerd wees nie, dit was net Boekedag wat sy magic gewerk het.
Comments ()