Hoekom Barberton se besighede meer as ooit plaaslike steun nodig het

As Barberton wil floreer, sal dit verg dat inwoners hul eie dorp eerste kies. Elke plaaslike aankoop hou nog ’n lig aan, verseker nog ’n werk, en bewaar nog ’n stukkie van Barberton se onafhanklikheid. Moenie dat die dorp se besighede ook ingesluk word soos Umjindi munisipaliteit nie.

Hoekom Barberton se besighede meer as ooit plaaslike steun nodig het
Lomati-dam foto en digitale aanpassing: Anchen Coetzee.

Elke rand wat in Barberton spandeer word, het ’n veelvuldige uitwerking. Dit ondersteun winkeleienaars, loodgieters, elektrisiëns, apteke, plaaslike skryfbehoefte-handelaars, hardewareverskaffers, motorhandelaars, dokters, veeartse, salonne, restaurante, koffiewinkels en klein kantore. Hierdie is almal instansies wat plaaslike mense in diens neem. Wanneer daardie selfde rand buite die dorp spandeer word, breek daardie hele ekonomiese kringloop, en die dorp verloor twee keer: eers die onmiddellike inkomste en daarna die langtermynbelegging.

Aan die hele insluk van Umjindi deur die stad Mbombela, kan daar nie veel gedoen word nie - wel, nie oornag nie - maar aan die hoeveelheid plaaslike geld wat buite Barberton se grense spandeer word, kan daar beslis iets gedoen word. Slegs ’n onrealistiese mens sal dink dat alle geld binne die grense gehou moet word. Hierdie joernalis sê beslis nie dit nie. Die deursnee mens hou van Nelspruit se groter winkels met al die keuses, en boonop bring Nelspruit self ook geld na Barberton, want baie plaaslike mense werk anderkant die berg. Wat wél gesê word, is dat inwoners eers moet dink: Wat kan ek hierdie week in Barberton doen voordat ek oor die berg ry? Laat sit jou bande plaaslik op, laat sny jou hare in die dorp, eet by ’n plaaslike restaurant of ondersteun ’n Barberton-koffiewinkel voor jy oor die berg ry. As jy daarna nog lus het vir groter inkopiesentrums, gaan geniet dit, maar gee Barberton die eerste kans.

Om plaaslik te ondersteun beteken ook om jou eie dorp te leer ken. Hoeveel inwoners het al ’n staproete of 4x4-roete bespreek, by een van Barberton se klubs aangesluit, of ’n gemeenskapsgeleentheid bygewoon? Om te weet wat in jou eie omgewing beskikbaar is, is deel daarvan om ’n dorp lewendig te hou. Klubs en geleentheidsorganiseerders is welkom om die redakteur van De Kaap Echo, Lynette Spencer, te e-pos vir hulp met mediablootstelling. Hoe meer mense betrokke raak, hoe sterker word die gevoel van samehorigheid, en hoe meer rede is daar vir nuwe ondernemings om oop te maak. Hierdie dinge lig ook die moraal, want ’n dorp wat in sy eie waarde glo, bring ook meer inisiatief na vore. Met volgehoue steun is ondernemings boonop gemotiveer om hul standaarde te verhoog, dienslewering te verbeter en gesond te kompeteer. Dit skep ’n positiewe siklus: kliëntevertroue dryf beter diens, en beter diens bring sterker lojaliteit.

Barberton is gelukkig om sy eie winkelsentrums te hê wat gerief en verskeidenheid bied, maar die klein, dikwels familieondernemings in en om Crownstraat - die hart van die oorspronklike dorp - is afhanklik van plaaslike steun om hul deure oop te hou. Hul voortbestaan verseker die inkomste van baie plaaslike gesinne, vir baie, baie jare alreeds.

Kortom, om plaaslike besigheid te ondersteun beteken nie jy moet Mbombela vermy nie; dit beteken om te besef Barberton het bekwame verskaffers, ambagslui en professionele mense wie se kundigheid vertroue verdien, en wie se sukses die dorp se toekoms direk beïnvloed.

Om plaaslik te spandeer is nie liefdadigheid nie; dit is gesonde ekonomie.

As Barberton wil floreer onder die groter Mbombela-munisipaliteit, sal dit verg dat inwoners hul eie dorp eerste kies. Elke plaaslike aankoop hou nog ’n lig aan, verseker nog ’n werk, en bewaar nog ’n stukkie van Barberton se onafhanklikheid. Moenie dat dit ook ingesluk word nie.

Ondersteun plaaslik.

The Local Choice Eksteen Pharmacy | OppiDam | Mbombela Properties | Point S Barberton

Op hierdie noot wil De Kaap Echo baie dankie sê vir die besighede wat ons ondersteun het deur Oktober. Ons nooi ander besighede uit om hul voorbeeld te volg en plaaslike media te ondersteun wat Barberton se mense, erfenis en groei in die kollig te plaas. Dit is maklik vir ons om aan besighede te vertel wat ons vir hulle kan doen, maar ons wil eerder hoor wat ons vir jou besigheid kan doen, so WhatsApp ons gerus.

De Kaap Echo het gegroei tot byna 800 Facebook-volgelinge, en ons is dankbaar vir elkeen. Tog het meer as 80% nog nie ingeteken (subscribe) op ons webwerf nie, en dit is heeltemal gratis. Ingetekendes ontvang alle nuwe stories direk in hul e-pos die oomblik wanneer dit gepubliseer word, nog voor dit op sosiale media verskyn.

👉 Teken in – dit neem slegs ’n paar sekondes
📱 Laai ook ons app af - dit is gratis, vinnig en jy hoef nooit weer die internet te gebruik om artikels te lees nie. Voeg dit eenvoudig by op jou foon se tuisskerm. Hierdie video wys hoe jy dit kan doen in twee maklike stappe.