Indien jy deel is van 'n kleiner gemeenskap, soos Barberton, ondersteun plaaslik waar jy kan. Agter elke klein onderneming is daar iemand wat waag, opoffer en hard werk om jóú gemeenskap te help bou.

Daar word gereeld gepraat van die vryheid wat entrepreneurskap bring. Dinge soos om jou eie baas te wees, jou eie ure te bepaal en jou drome na te jaag. Sosiale media is vol suksesverhale van ondernemings wat groei en mense wat hul eie pad stap. Wat baie minder aandag kry, is die verantwoordelikheid en druk wat saam met daardie vryheid kom.
Vir baie klein sake-eienaars begin elke dag lank voordat die eerste kliënt deur die deur stap en eindig dit eers vroeg in die oggendure van die volgende dag. Daar is salarisse wat betaal moet word, in sommige besighede voorraad wat aangekoop moet word, rekeninge wat nie kan wag nie en kliënte wat op antwoorde en resultate staatmaak. Selfs wanneer die werksdag verby is, en selfs in mens se drome, bly die besigheid in jou kop.
Dis maklik om van buite af na 'n onderneming te kyk en te dink alles verloop glad. 'n Vol parkeerterrein, besige winkel of aktiewe Facebook-blad vertel egter nie altyd die hele storie nie. Agter die skerms is daar dikwels iemand wat probeer uitwerk hoe om nog 'n moeilike maand deur te kom, sonder dat werknemers of kliënte daarvan bewus is.

Vir baie entrepreneurs is die grootste uitdaging nie noodwendig die werk self nie, maar die gevoel dat hulle altyd sterk moet wees. Hulle is die een wat oplossings moet vind wanneer iets verkeerd loop, kalm moet bly wanneer geld min raak en besluite moet neem wat ander mense se lewens raak. Dit laat min ruimte om self te erken wanneer die druk eenvoudig te veel raak.
Juis daarom word daar al hoe meer oor entrepreneurs se geestesgesondheid gepraat. Kenners wys daarop dat lang periodes van spanning en onsekerheid uiteindelik nie net 'n mens se welstand raak nie, maar ook jou vermoë om goeie besluite te neem. Uitbranding gebeur selde oornag. Dit bou stadig op totdat selfs klein probleme onnodig groot begin voel.
Dit beteken natuurlik nie entrepreneurskap is iets wat vermy moet word nie. Inteendeel, klein ondernemings vorm die hart van baie dorpe en gemeenskappe. Hulle skep werk, ondersteun plaaslike ekonomieë en dra dikwels by tot projekte en organisasies wat andersins sou sukkel om kop bo water te hou. Sonder entrepreneurs sou baie gemeenskappe eenvoudig nie dieselfde lyk nie.
Die een ding wat mens nooit moet miskyk nie, is dat sukses nie net gemeet moet word aan wins, omset of groei nie. Dit behoort ook gemeet te word aan volhoubaarheid - of 'n onderneming gebou word op 'n manier wat die eienaar toelaat om oor die langtermyn gesond, gemotiveerd en teenwoordig te bly.
Om soms hulp te vra of tyd af te neem wanneer dit nodig is, is beslis ook nie 'n teken dat iemand misluk het nie. Inteendeel, dit kan juis die verskil wees tussen 'n onderneming wat vir jare aanhou groei en een wat onder die gewig van konstante druk begin knak.
Indien jy deel is van 'n kleiner gemeenskap, soos Barberton, doen jou deel en ondersteun, sover moontlik, plaaslik. Nie net help jy om werkgeleenthede en plaaslike ondernemings aan die gang te hou nie, maar jy ondersteun ook die mense wat elke dag die risiko neem om iets vir hul gemeenskap op te bou. Agter elke klein besigheid is daar 'n mens met verantwoordelikhede, uitdagings en drome. Soms is jou ondersteuning meer werd as wat jy ooit sal besef.










Comments ()